Saturday 9 July 2011

"Conquest of Paradise"

Die stuk "Conquest of Paradise" het vir die lede van die Knysna Seiljagklub spesiale betekenis.  Hulle was in vervoering daaroor maar dit is ook die gepaste manier om vanmiddag se vertoning te beskryf:  Die Klofie konsertorkes het die paradys vanmiddag verower.  

Mens kan nie vir 'n beter "setting" gevra het nie.  Die omgewing is skilderagtig en die weer was perfek. Die Orkes het UITSTEKEND geklink (en gelyk) en die gehoor was baie aangenaam verras en het dit ook laat blyk met hul kommentaar en meelewing  Hulle het duidelik baie meer gekry as wat hulle verwag het.  

Indien dit prakties moontlik is, lyk dit asof dit 'n uitgemaakte saak is dat die Orkes nou deel van die Knysna Oesterfees gaan word.  Dit is 'n groot eer dat die organiseerders so 'n ophef van die orkes maak.  Hulle is totaal en al oorweldig deur hierdie spesiale groep musikante onder die uitstekende begeleiding van Maestro.

Die Admiraal in beheer van Simonstad Vlootbasis (waarheen die orkes more vertrek) het ook die middagkonsert bygewoon (terloops, hy was die eregas van die Seiljagklub vir die middag) .  Hy het persoonlik na die tyd na Danie gegaan en ten aanskoue van Danie en verskeie orkesouers, Kommandeur Kenny Leibrandt van die Vlootorkes op sy selfoon geskakel en aangedring (let wel : nie gevra) dat die Klofieorkes moreoggend in die eerste 15 minute van die Vlootorkes se tydgleuf by die fees optree.  Hy was baie beindruk met dit oor wat hy aanskou het!  Dit behoort die prentjie te skets van wat vanmiddag by die eksklusiewe Seiljagklub plaasgevind het. 



Die geraaswa tussen die seiljagte, langs die meer met 'n ongelooflike agtergrond


Die plek waar die orkes stelling ingeneem het


Die nuwe staanderversiering wat vir die eerste keer gebruik is

Die waterfront in agtergrond waar hulle Sondagoggend optree










Na die optrede het die ouers almal by die Spur gaan eet en die kinders kon tot 22:00 op die waterfront deurbring.  Nou (23:30) is dit 'n geskarrel om te pak vir die tog na Kaapstad moremiddag na die ongeskeduleerde oprede moreoggend in die middel van die Waterfront, onder die Dome.  

Die Toer oortref alle verwagtinge sover en almal geniet dit ontsettend.  Ons sien uit na die tyd in Simonstad saam met die Vlootorkes. Hierdie was een van daardie spesiale dae waar ek dinge beleef en gesien het wat ek nooit sal vergeet nie!  Well done Kofieorkes!!

No comments:

Post a Comment