Sunday 18 December 2011

Kersboodkap van Maestro

Die jaar 2011...

“Your legacy should be that you made it better than it was
when you got it!”


Geseënde Kersfees


Geagte Ouers, orkeslede en vriende van die orkes.

Wat ‘n jaar!! Ek kan nie anders as om met dankbaarheid terug te dink aan een van die beste orkesjare wat ons nog gehad het nie.

Daar was baie hoogtepunte soos byvoorbeeld ons eie musiekstuk wat deur Hans Nel vir ons gekomponeer is, die duitse orkes van Hahnbach, die Kaapse toer, die samewerking met Kommandeur Kenny Leibbrandt en die Suid-Afrikaanse Vlootorkes, optredes by die Knysna Oesterfees, V&A Waterfront, die SA Vlootorkes se gala-aand en natuurlik ons eie gala-aand in die ZK Matthews Ouditorium, UNISA.

Die grootste eer wat ons weereens te beurt geval het was verseker die wen van die SA’s vir die agtste agtereenvolgende jaar. Ons harde werk is beloon. Hiervoor gee ek alle eer en verheerliking aan Jesus Christus wat ons so geseën het.

Al die bogenoemde sou nooit moontlik gewees het as dit nie ‘n ongelooflike spanpoging was nie. Baie dankie aan elke ouer wat ons ondersteun het - maak nie saak hoe groot of hoe klein nie.

Baie dankie vir ure en ure se harde werk, opoffering en finansiële bystand. Daar het baie gebeur aan die ouerfront! Ons Geraaswa is behoorlik gediens en reggemaak, ons het pragtige nuwe konsertdrag en die mooiste staanderlappies gekry, ons het lekker geëet tydens naweekoefeninge, ons toer en gala-aand was moontlik gemaak deur die hulp van ons ouers, klank, beligting, musiekbundels, drukwerk, Jacques Botha vir al die foto’s, vervoer van ons kinders na en van optredes en oefeninge en so kan ek aangaan en aangaan.
U as orkesouers speel ‘n ongelooflike belangrike rol in die sukses van ons orkes. Baie baie dankie aan u elkeen vir ALLES wat u vir ons doen.

Dan, my hart se punt... my orkes.

Julle is die rede hoekom ek elke dag opstaan en skool toe gaan. Julle is my hartklop. Julle is my medisyne as ek nie lekker voel nie, julle is my hartklop wanneer my hart nie lekker wil werk nie... julle is my hart se punt!!

Baie dankie aan elkeen van julle vir julle harde werk. Baie dankie dat jy soveel opoffer om deel van ons suksesverhaal te wees. Dankie dat jy so baie van jou vrye tyd opoffer om hierdie goeie saak te dien en ander mense met jou talent te bedien. Julle is “magic” en ek prys die Heer vir ‘n klomp kidz soos julle.
Ek is baie trots op julle en baie lief vir elkeen van julle. Mag die liewe Heer elkeen van julle net so ryklik seën soos wat julle vir ander mense ‘n seëning is met ons optredes.

Mag hierdie vakansie vir julle elkeen verfrissend wees en mag julle elkeen baie goed uitrus sodat julle verkwik terug kom vir 2012 en ek hoop ek sien jul elkeen weer by die orkes!!

Dan wil ek ook ons orkesleiers van 2011 gelukwens met ‘n puik jaar. Julle was by verre die heel beste leiergroep wat hierdie orkes nog gehad het. Baie dankie aan elkeen van julle wat hard gewerk het, wat julle kant gebring het en waarop ek altyd kon staatmaak! Julle is ‘n puik groep jongmense waarop ek baie trots is.

Ebert, jy was ‘n puik hoofleier waarop ons baie trots was en wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het. Baie dankie vir die wyse waarop jy voor gehardloop het. Baie dankie vir jou harde werk en altyd gesorg het dat probleme uitgesorteer is nog voordat dit werklik ‘n probleem geword het. Jy was my vertroueling, my steunpilaar en iemand waarop ek altyd kon staatmaak. Ek gaan jou baie mis!!

Renée, jy was DIÉ konsertmeester en solis waarvan enige maestro maar net kan droom. Jy het diep spore in my en ons orkes se harte getrap. Jy is baie talentvol en was voorwaar ‘n baie groot aanwins vir ons orkes en het ongelooflik baie bygedra tot die sukses van ons orkes. Baie dankie vir dit wat jy alles vir ons gedoen het. Ons gaan jou regtig baie mis!

Ons het reeds ons matrieks gegroet; Renée, Rolandi en Cobus, julle plekkies gaan maar baie leeg wees. Maar ons seën julle in die Naam van Jesus en bid dat julle paaie met voorspoed en gesondheid besaai sal wees. Hou altyd van aan die wat julle ouers julle geleer het, dit wat julle by die orkes geleer het en dit wat die Woord jou leer - dan sal dit met elkeen van julle goed gaan.

To all our friends from other countries who follow us on our blog, thank you so much for your interest in our band and may the Lord bless you with prosperity, good health and good company! Have a wonderful Christmas and may we see you again next year!!
As on 18 Decenber 2011:  Fewer than 5 hits not shown

Ek groet u almal in die Naam van Jesus en wens u elkeen ‘n baie geseënde Christusfees en ‘n baie voorspoedige 2012 toe.

Maestro

Jesaja 40:31 “maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Isaiah 40:31 “but those who hope in the Lord will renew their strength. They will soar on wings like eagles; they will run and not grow weary, they will walk and not be faint.

Tuesday 13 December 2011

'n Tyd om te gee . . .

Vandag (13 Desember 2011) het die leiers van volgende jaar saam met Maestro na die Abraham Kriel Kinderhuis gegaan om die kersgeskenke af te lewer wat deur Maestro, personeel, die orkesouers, familie, vriende, kennisse, oudorkeslede etc. geskenk is vir die verskillende huise.   Al die huise se kinders ontvang vanjaar dit wat hulle op hul 'wenslysies' geskryf het!  Klofie Orkes, julle het julself weereens OORTREF!  

Maestro, jy vertel altyd vir die ouers dat hulle gym toe moet gaan om hul nekke sterk te maak vir al die krone wat hul eendag gaan ontvang.  Jy's reg - maar dis JOU krone wat ons gaan rondra agter jou aan omdat daar nie plek is op jou kop vir almal nie!  Dankie vir die dinge wat jy die kinders leer wat ons nie in hul koppe kan kry nie (soos om ander se nood raak te sien en dan iets daaromtrent te doen). Hierdie dankie kom nie net van my af nie. . . . 


Hier is die fotos wat deur Danie geneem is tydens die uitstappie: