Sunday 18 December 2011

Kersboodkap van Maestro

Die jaar 2011...

“Your legacy should be that you made it better than it was
when you got it!”


Geseënde Kersfees


Geagte Ouers, orkeslede en vriende van die orkes.

Wat ‘n jaar!! Ek kan nie anders as om met dankbaarheid terug te dink aan een van die beste orkesjare wat ons nog gehad het nie.

Daar was baie hoogtepunte soos byvoorbeeld ons eie musiekstuk wat deur Hans Nel vir ons gekomponeer is, die duitse orkes van Hahnbach, die Kaapse toer, die samewerking met Kommandeur Kenny Leibbrandt en die Suid-Afrikaanse Vlootorkes, optredes by die Knysna Oesterfees, V&A Waterfront, die SA Vlootorkes se gala-aand en natuurlik ons eie gala-aand in die ZK Matthews Ouditorium, UNISA.

Die grootste eer wat ons weereens te beurt geval het was verseker die wen van die SA’s vir die agtste agtereenvolgende jaar. Ons harde werk is beloon. Hiervoor gee ek alle eer en verheerliking aan Jesus Christus wat ons so geseën het.

Al die bogenoemde sou nooit moontlik gewees het as dit nie ‘n ongelooflike spanpoging was nie. Baie dankie aan elke ouer wat ons ondersteun het - maak nie saak hoe groot of hoe klein nie.

Baie dankie vir ure en ure se harde werk, opoffering en finansiële bystand. Daar het baie gebeur aan die ouerfront! Ons Geraaswa is behoorlik gediens en reggemaak, ons het pragtige nuwe konsertdrag en die mooiste staanderlappies gekry, ons het lekker geëet tydens naweekoefeninge, ons toer en gala-aand was moontlik gemaak deur die hulp van ons ouers, klank, beligting, musiekbundels, drukwerk, Jacques Botha vir al die foto’s, vervoer van ons kinders na en van optredes en oefeninge en so kan ek aangaan en aangaan.
U as orkesouers speel ‘n ongelooflike belangrike rol in die sukses van ons orkes. Baie baie dankie aan u elkeen vir ALLES wat u vir ons doen.

Dan, my hart se punt... my orkes.

Julle is die rede hoekom ek elke dag opstaan en skool toe gaan. Julle is my hartklop. Julle is my medisyne as ek nie lekker voel nie, julle is my hartklop wanneer my hart nie lekker wil werk nie... julle is my hart se punt!!

Baie dankie aan elkeen van julle vir julle harde werk. Baie dankie dat jy soveel opoffer om deel van ons suksesverhaal te wees. Dankie dat jy so baie van jou vrye tyd opoffer om hierdie goeie saak te dien en ander mense met jou talent te bedien. Julle is “magic” en ek prys die Heer vir ‘n klomp kidz soos julle.
Ek is baie trots op julle en baie lief vir elkeen van julle. Mag die liewe Heer elkeen van julle net so ryklik seën soos wat julle vir ander mense ‘n seëning is met ons optredes.

Mag hierdie vakansie vir julle elkeen verfrissend wees en mag julle elkeen baie goed uitrus sodat julle verkwik terug kom vir 2012 en ek hoop ek sien jul elkeen weer by die orkes!!

Dan wil ek ook ons orkesleiers van 2011 gelukwens met ‘n puik jaar. Julle was by verre die heel beste leiergroep wat hierdie orkes nog gehad het. Baie dankie aan elkeen van julle wat hard gewerk het, wat julle kant gebring het en waarop ek altyd kon staatmaak! Julle is ‘n puik groep jongmense waarop ek baie trots is.

Ebert, jy was ‘n puik hoofleier waarop ons baie trots was en wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het. Baie dankie vir die wyse waarop jy voor gehardloop het. Baie dankie vir jou harde werk en altyd gesorg het dat probleme uitgesorteer is nog voordat dit werklik ‘n probleem geword het. Jy was my vertroueling, my steunpilaar en iemand waarop ek altyd kon staatmaak. Ek gaan jou baie mis!!

Renée, jy was DIÉ konsertmeester en solis waarvan enige maestro maar net kan droom. Jy het diep spore in my en ons orkes se harte getrap. Jy is baie talentvol en was voorwaar ‘n baie groot aanwins vir ons orkes en het ongelooflik baie bygedra tot die sukses van ons orkes. Baie dankie vir dit wat jy alles vir ons gedoen het. Ons gaan jou regtig baie mis!

Ons het reeds ons matrieks gegroet; Renée, Rolandi en Cobus, julle plekkies gaan maar baie leeg wees. Maar ons seën julle in die Naam van Jesus en bid dat julle paaie met voorspoed en gesondheid besaai sal wees. Hou altyd van aan die wat julle ouers julle geleer het, dit wat julle by die orkes geleer het en dit wat die Woord jou leer - dan sal dit met elkeen van julle goed gaan.

To all our friends from other countries who follow us on our blog, thank you so much for your interest in our band and may the Lord bless you with prosperity, good health and good company! Have a wonderful Christmas and may we see you again next year!!
As on 18 Decenber 2011:  Fewer than 5 hits not shown

Ek groet u almal in die Naam van Jesus en wens u elkeen ‘n baie geseënde Christusfees en ‘n baie voorspoedige 2012 toe.

Maestro

Jesaja 40:31 “maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Isaiah 40:31 “but those who hope in the Lord will renew their strength. They will soar on wings like eagles; they will run and not grow weary, they will walk and not be faint.

Tuesday 13 December 2011

'n Tyd om te gee . . .

Vandag (13 Desember 2011) het die leiers van volgende jaar saam met Maestro na die Abraham Kriel Kinderhuis gegaan om die kersgeskenke af te lewer wat deur Maestro, personeel, die orkesouers, familie, vriende, kennisse, oudorkeslede etc. geskenk is vir die verskillende huise.   Al die huise se kinders ontvang vanjaar dit wat hulle op hul 'wenslysies' geskryf het!  Klofie Orkes, julle het julself weereens OORTREF!  

Maestro, jy vertel altyd vir die ouers dat hulle gym toe moet gaan om hul nekke sterk te maak vir al die krone wat hul eendag gaan ontvang.  Jy's reg - maar dis JOU krone wat ons gaan rondra agter jou aan omdat daar nie plek is op jou kop vir almal nie!  Dankie vir die dinge wat jy die kinders leer wat ons nie in hul koppe kan kry nie (soos om ander se nood raak te sien en dan iets daaromtrent te doen). Hierdie dankie kom nie net van my af nie. . . . 


Hier is die fotos wat deur Danie geneem is tydens die uitstappie:  































Tuesday 29 November 2011

KERSSANGDIENS: SONDAG, 4 DESEMBER

Geagte ouers.

       1.       KINDERHUIS

Baie dankie vir al die geskenke wat reeds by my is.  Die res van die ouers moet asseblief onthou dat al die geskenke voor 12 uur Vrydag by my moet wees asseblief.

       2.       KERSSANGDIENS:  SONDAG, 4 DESEMBER

2.1               Aangeheg vind u die repertoire vir Sondagaand.  Ek het vir die kinders gevra dat hulle ALMAL hul musiek in hierdie volgorde moet sit.  Daar word geen aankondigings gemaak nie en hulle
moet outomaties weet wat is volgende.
2.2               Vriendelik vra ek u hulp, maak asseblief seker u kind sit die musiek in die flip file in hierdie volgorde!!
2.3               Die reëlings is ook op die aanhangsel.
2.4               Dit is ons laaste optrede vir die jaar en dit is ook ons matrieks se laaste optrede.  Vriendelik nooi ons u uit om hierdie diens saam met ons by te woon.

Vriendelike groete!

Danie



D.J.F. SMITH
DIRIGENT: HOëRSKOOL WATERKLOOF KONSERTORKES
DIREKTEUR KULTUUR
TELEFOONNOMMER:   012-347 0277 X 130
SELNOMMER: 082 853 8698
FAKS:  086 512 8755

Friday 25 November 2011

Danie Epos nr 28: 25 November 2011

Geagte ouers.

Ek hoop dat dit nog sommer baie goed gaan met julle almal!!  Graag gee ek die volgende aan u deur:

     1.     OPTREDE EN KERSSANGDIENSTE

1.1               Saterdag, 26 November:  UP formele dinee
Orkeslede moet op die laatste 15:30 hier wees om hul konsertklere aan te trek en die bus te pak (seuns trek by die huis aan) – ONTHOU DIE SA-BAADJIES!!  Meisies maak weer netjiese ponies soos met vorige optredes.  Die bus vertrek 16:00 by die skool.   Ons speel tot 19:00 en kom direk daarna terug.

1.2               Sondag, 27 November:  NG kerk Monumentpark
Baie dankie aan elke orkeslid wat verlede week Vrydag so hard geoefen het vir die Kerssangdienste.  Dit was ‘n wonderlike ervaring so saam met die orkes en veral ook toe die orrel saam met ons geoefen het.  Dit klink werklik baie goed.  Ons hoop dat u almal die diens om 18:30 saam met ons sal kan bywoon.  Maar wees gewaarsku, KOM VROEG om plek te kry!!

Die bus vertrek Sondag om 16:00.  Die orkeslede moet klaar hul SA-kleure aanhê.  Ons het ‘n oefening saam met die orrel en koor.  Na afloop van die diens is ons en ons ouers genooi om koffie, tee en verversings saam met die gemeente te geniet.   Daarna vertrek die bus terug skool toe of orkeslede ry saam hul ouers.

1.3               Sondag, 4 Desember:  VEK, Gezina
Die bus vertrek om 16:00.  Orkeslede moet klaar hul SA-kleure aanhê.  Die diens begin 18:30.  Hierdie Kerssangdiens verskil van die 27e se diens.  Ons orkes is totaal verantwoordelik vir die diens.  Baie dankie aan Armand, Jacques, Christi-Louise, Renier, Ineke, Subel en Annette wat my help om die diens te behartig.

Ouers word ook deur die kerk genooi om die diens saam met ons by te woon.  Na afloop van die diens geniet ons tee en verversing saam met die gemeente.  Daarna vertrek die bus terug skool toe.

     2.     DIENS VAN INSTRUMENTE

Terrence het vir ons orkes ‘n spesiale aanbod om dankie te sê vir wat ons vir hom beteken het die afgelope jaar.  Hy gee aan elke orkeslid wat sy/haar instrument nou by hom laat diens, 20% afslag op die reeds goeie afslagprys wat hy vir ons orkeslede vra.

Ek wil u aanmoedig om van hierdie aanbod gebruik te maak, want ons instrumente het

      a.       baie baie hard gewerk,
      b.      onderhoud/dienste verleng instrumente se lewensduur,
      c.       die voorwaarde vir die gebruik van skoolinstrumente is dat dit gereeld gediens moet word.

Kontak vir Terrence by 084 941 0623 om ‘n afspraak te maak.

     3.     GESKENKE VIR ABRAM KRIEL KINDERHUIS

Ek plaas weer die wenslysies vir u finale kontrole.  Daar het egter nuwe kinders bygekom.  Sal u asseblief daarna kyk en by vriende / familie hoor wie kan ons met hulle help.  Die kinders wat bygekom het is in die volgende huise:

3.1          Huis De Beer:     3 nuwe kinders
3.2          Huis De Klerk:    1 nuwe kind
3.3          Huis Tribelhorn: 2 nuwe kinders.

Ek hoop werklik ons kan hierdie kinders ook help!

Al die geskenke moet asseblief as volg hanteer word:

      a.       Draai asb die geskenke so toe dat die papier nie skeur wanneer dit verpak en vervoer nie.
      b.      Skryf asseblief die kind se NAAM en HUIS op die kaartjies.
      c.       Moet asb NIE u eie naam opskryf nie.  Die huisouers gee die persente aan die kindertjies op oukersaand waar hulle saam as ‘n gesin is.
      d.      Al die geskenke moet by my wees op die laatste teen Vrydag, 2 Desember (reeds toegedraai asb!). Ek is elke dag tot ongeveer 12 uur by die skool beskikbaar.

Laastens wil ek u weer versoek, betrek asseblief u kinders by hierdie liefdesdaad.  Dit is belangrik dat ons kinders ook hieruit iets leer.   Dis baie belangrik dat hulle ook leer en ook weer opnuut moet besef,  dat ons vir minder bevoorregte kinders moet omgee EN dat ons baie baie dankbaar moet wees vir ons eie ouers en vir die voorregte wat hul het.

Baie dankie vir u oop harte en die hulp aan hierdie kindertjies!

Groete!

Danie


D.J.F. SMITH
DIRIGENT: HOëRSKOOL WATERKLOOF KONSERTORKES
DIREKTEUR KULTUUR
TELEFOONNOMMER:   012-347 0277 X 130
SELNOMMER: 082 853 8698
FAKS:  086 512 8755

Wednesday 9 November 2011

Danie E-pos nr 27: 9 November 2011

Geagte ouers.

Ek hoop dat dit sommer nog baie goed gaan met u almal.  Ek glo en vertrou dat die kinders baie hard leer vir die eksamen.

Ouers, ek het 3 pragtige SA-baadjies beskikbaar indien u belangstel.  Die groottes is  ‘n XXL (48),  ‘n 36  en ‘n baie kleintjie wat nie ‘n grootte op het nie, moontlik ‘n small.  Indien u belangstel, kontak my.

Graag die volgende:

    1.     WENSLYSIES

Ek heg weer die volledige stel wenslysies aan.  Maak asseblief seker by elke huis dat u naam op die regte plekke ingeskryf is.  Ek het nog die volgende hulp nodig, dan is al die kinders gehelp:

     a.       HUIS DE KLERK:                 Kort 1 radio/CD speler
     b.      HUIS JAN-LOUW:             Kort 1 skateboard
     c.       HUIS TRIBELHORN:          Kort 2 selfone.

Indien u u weg oopsien om my nog daarmee te kan help, sms / bel / epos my dadelik.

Nogmaals baie baie dankie vir u hulp!!

    2.     KERSSANGDIENSTE

Ons 2 Kerssangdienste kom nou baie vinnig nader.  Baie orkeslede het gevra dat ons nie eerskomende Vrydag moet oefen nie, maar wel ‘n verlengde oefening moet he volgende week.  Ek het geen probleem daarmee nie.  Ek hoop net dat dit al ons kinders sal pas.

Daar sal hierdie week dus geen voorbereidingsoefening wees nie, maar wel volgende week,  18 November.  Dis nou baie moeilik om al die skole en al die eksamentye te kan akkomodeer, daarom versoek ek dat ons volgende week 14:00 – 18:00 sal oefen want die volgende week is dit die eerste Kersdiens.  Die reëlings vir die oefening sal soos volg wees:

Orkeslede moet seker maak al hul instrumente en musiekstaanders word die oggend of voor 13:00 in my klas gelaat, want die matrieks skryf in die saal.

13:00     Bus vertrek vanaf die skool na NG Kerk Monumentpark. Die oefening is by die kerk.
17:00     Bus vertrek terug skool toe met ‘n “pit stop” by McDonalds.
18:00     Terug by die skool.

Sodra ek al die inligting vanaf NG Kerk Monumentpark (27 November)en die Volle Evangelie Kerk, Gezina (4 Desember) af ontvang het, sal ek u inlig.  In albei gevalle sal daar busvervoer wees.

Ons gaan ook by albei die Kerssangdienste met ons SA-Kleure optree.

Ons gaan met die diens by Monumentpark (27 Nov), ‘n formele foto neem met ons SA-kleure – dit was nog nooit gedoen die afgelope 7 jaar nie!!

    3.     OPTREDE BY TUKKIES SE FORMELE FUNKSIE:  26 NOVEMBER

Ek het verkeerdelik op ons program LIGTEMUSIEK ENSEMBLE getik, dit moet eintlik lees LIGTEMUSIEK ORKES.  Indien daar nou probleme hieroor is, moet u my asseblief dringend laat weet!

    4.     SOLISTE 2012

Die orkeslede wat graag volgende jaar as soliste oorweeg wil word, sal met ons laaste oefening die musiek ontvang waarop hulle ge-evalueer sal word tydens die eerste week van die nuwe skooljaar.  Dit is ook gedurende hierdie tyd waar elke orkeslid vir my speel sodat ek hulle kan plaas van stem 1 tot stem 4.

Orkeslede wat gedurende 2011 by die orkes begin het asook die wat nie hierdie jaar SA Kleure mag gekry het nie, speel dan ook hulle toelatingsoudisie tot die orkes.  Indien so ‘n lid nie die musiek 100% ken nie, sal hy/sy nie verder lid van die orkes kan wees nie.  Daar is dan GEEN tweede kans of enige uitsonderings nie.

Ek wil ook versoek dat die kinders GLAD NIE onder mekaar mag bepaal wie moet watter stem speel nie en wie mag en wie mag nie solo’s speel nie.  Hierdie word slegs deur myself bepaal en dit word gedoen met ‘n oudisie voor die hele orkes.  Leerders skuif nie net outomaties in stemme op nie.

    5.     SIMFONIA JUVENTI

Ek het die aansoekvorms vir Simfonia Juvent ontvang.  Indien daar enige orkeslid is wat wil gaan vir die oudisies, moet hulle die inskrywingsvorms by my kom kry:

      a.       Oudisies is 25 – 28 Januarie
      b.      Oefenweek:  31 Maart – 5 April
      c.       Konserte:  5 April,  4, 5, 6 April,  18, 19 Mei,  26 Mei.
      d.      Oudisie:  Moet ten minste 2 kontrasterende stukke op Graad 5-standaard speel.   Oudisiefooi is R100.
      e.      Ledegeld:  R920 (nie terugbetaalbaar indien kind onttrek nie).
      f.        Sluitingsdatum vir inskrywings:  14 November.


Ek moet afsluit deur te se, EK MIS MY ORKES EN HUL MOOI MUSIEK!!!  Kan nie meer wag vir volgende jaar nie!!!

Seënwense vir u en ook vir elke kind wat so hard leer vir die eksamen.

Groete.
Danie

D.J.F. SMITH
CONDUCTOR: CONCERT BAND
DIRECTOR: HOëRSKOOL WATERKLOOF CULTURE
TEL:   012-347 0277 X 130
CELL: 082 853 8698
FAX:  086 512 8755

Friday 4 November 2011

Dorpsfees Verskeidenheidskonsert: 28 Oktober 2011

Hierdie fotos is geneem tydens verlede Vrydagaand se Dorpsfees Verskeidenheidskonsert optrede by die Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk.

Jammies Jamneck, die Broers, en vele ander kunstenaars het opgetree. Dat daar baie spesiale talente in ons omgewing is, word onderstreep deur die feit dat bykans al die kunstenaars vanuit PVR en omliggende dele kom. 


Kliek op hierdie link http://www.pvr.co.za  om na die kerk se blad te gaan waar die fotos oorspronklik geplaas is.  Die fotos word geplaas met Dominee Jan Venter se toestemming en die puik kwaliteit fotos is deur Dorette Kruger (wat ook in PVR woon), geneem.