Thursday 27 October 2011

Danie E-pos nr 25: 27 Oktober 2011

Geagte ouers.

     1.     WENSLYSIES VIR KINDERHUIS

Baie dankie vir die oorweldigende hulp wat ek ontvang het met hierdie projek.  Ek glo dat die kinders van die kinderhuis ‘n ongelooflike Kersfees gaan hê!

Al die geskenke moet asseblief op die laatste teen Maandag 5 Desember by my wees.  Onthou asseblief die volgende:

      a.       Draai die geskenke toe met geskenkpapier. Draai asseblief so toe dat dit die verpakking in kartondose kan weerstaan.
      b.      Sit ‘n kaartjie op met die HUIS se naam en onder die huis se naam, die kind se naam.
      c.       Moet asseblief NIE u eie naam op die kaartjies plaas nie. Die huise skep ‘n huislike atmosfeer en die huisouers deel die geskenke uit.

Ek sal later vandag weer vir u die opgedateerde lyste stuur.  Gaan asseblief elke kind na wat u gekies het en laat weet my indien daar foute op is.  Kyk ook asseblief na die kinders wat nog nie geskenke het nie en vra u familie, vriende en kollegas om ons te help.  U hulp word regtig baie waardeer.

Laastens wil ek u weer versoek om u eie kind ook by hierdie liefdesdiens te betrek.  Ek glo dat hulle verseker iets hieruit sal kan leer.

     2.     LEIERS 2012

Ons het ‘n ongelooflike sterk leiergroep vir volgende jaar.  Baie geluk aan Dietrich, ons konsertmeester / hoofmusikant (musikale hoofleier), Gideon Zeeman, ons hoofleier (dissiplinêre en administratiewe leiergroep) en Jaco Pretorius ons onderhoofleier.  Baie geluk ook aan al die ander leiers en seksieleiers (sien aanhangsel.

     3.     GALA-AAND

Ek wil ook net weereens van my kant af baie baie dankie sê vir alles wat u gedoen het om van hierdie aand so ‘n sukses te maak.  Elkeen se aandeel, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, het van die aand gemaak wat dit was.  Hierdie aand was verseker ‘n hoogtepunt in my en ook u kind se lewe.  Nogmaals baie baie dankie aan u elkeen se bydrae.

Alles was so perfek, van waar jy ingekom het met die sjerrietafels, dan op met die trappe met die pragrige foto’s van ons kinders, dan in by die ouditorium se foyer waar ons so mooi herinner is aan die feit dat ons die SA kampioene is, dan in by die ouditorium, die pragtige blomme, ons ongelooflike mooi musiekstaanderlappies, die kinders wat so mooi aangetrek is met geen haar uit sy plek nie.  Ai tog, wat ‘n voorreg en wat ‘n prentjie!!  BAIE BAIE DANKIE AAN U ELKEEN!!!!

Ons het nie by ons doelwit uitgekom om so na aan 1000 kaartjies te kom nie, maar dit maak nie saak nie – die aand was steeds ‘n reuse sukses.  Ons wins gaan net baie kleiner wees, maar op die ou ens was dit steeds die moeite werd!!

Nou moet ek nog net die finansies uitsorteer.  Vriendelik versoek ek dat indien u nog strokies in u besit het van betalings wat ons moet doen, u dit asseblief so gou moontlik vir my stuur.

Carin Hartzenberg versoek ook dat die mammas wat nog van haar blombakke het, dit asseblief dringend moet terug besorg.  U kan dit vir my stuur en ek sal seker maak sy kry dit.

     4.     SA KLEURE

4.1               Daar is nog baie gelde uitstaande.  Die dame van die baadjies raak al ongeduldig, want dit was eintlik KBA!  Vriendelik versoek ek u dringend, dat alle baadjie en sakwapengelde dringend inbetaal moet word.
4.2               Die sakwapens wat die kinders bestel het, is ook by my.  Ek gaan volgende week my baadjie vir die plek neem om my sakwapen aan te werk.  Indien u  u kind se wapen ook wil laat aanwerk, moet u die sakwapen met ‘n haakspeld aan die baadjie vassteek met R35 in ‘n koevert met u kind se naam daarop en Maandag vir my terug stuur.

     5.     OPTREDES VIR 2011

Ons het nog die volgende optredes vir die jaar oor:

5.1          Vrydagaand, 28 Oktober:    Ons is spesiaal uitgenooi as SA Kampioene vir 2011 om as gasskunstenaar op te tree by die Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk in Baltimorestraat.  Die verskeidenheidskonsert is so aangepas dat ons die hoofitem vir die aand is. Ons tree met ons konsertklere op.  Seuns trek tuis aan en meisies by die kerk.  Bus vertrek 17:00 vanaf die skool ek kom weer terug skool toe na afloop van die konsert.  U word hartlik uitgenooi om hierdie aand saam met ons te kom geniet!!  Toegang  is gratis, daar  word ‘n kollekte opgeneem. 

5.2          Saterdag, 29 Oktober:  Michelle tree op by die Bazaar van die NG Kerk, Morelettapark om 12:00 – 12:30.  Baie sterkte vir jou!!

5.3          Saterdag, 26 November:  Die Ligtemusiek Ensemble tree op by ‘n formele UP-dinee by die Sorex Estate, Clubview.  Ons tree met ons konsertklere op.  Seuns trek tuis aan en meisies by die venue.  Bus vertrek 16:00 vanaf die skool ek kom weer terug skool toe na afloop van die optrede wat 18:00 – 19:00 is.

5.4          Sondag, 27 November:  Kerssangdiens by die NG Kerk, Monumentpark.  Ons tree met ons SA Kleure op.  Almal trek tuis klaar aan.  Bus vertrek 17:00 vanaf die skool en laai ons by die kerk af.   U word genooi om die kerssangdiens saam met ons by te woon.  Daar is dus geen busvervoer na  afloop van die diens nie, kinders ry dan saam met hul ouers.

5.5          Sondag, 4 Desember:    Die VEK, Gezina het versoek dat ons ‘n kersdiens saam met hulle kan doen op 4 Desember.  Ek gaan die opname Vrydagaand by die optrede maak om te hoor of ons dit kan doen of nie.  Bespreek dit asseblief vandag met u kind soadt ek moreaand ‘n ja / nee kan kry en die kerk kan laat weet.  Dit is dieselfde kerk waar ons vroeer vanjaar opgetree het.

Soos u kan sien, ons kry steeds baie versoeke om op te tree, maar ek probeer werklik om dit te beperk, maar nou, eish, as jy beroemd is..... is jy beroemd!!!!

     6.     DANSLESSE

Aangeheg vind u ‘n pamflet van Theo se dansskool.  Hy nooi ons uit vir hierdie dansles.  Kontak hom om afspraak te maak!! Ons dreig nou al lang vir ons orkes se eie “ballroom”, nou het ons die kans daarvoor!!


Laastens wil ek vir almal wat boodskappe gestuur het terwyl ek in die hospitaal was, baie baie dankie sê.  Ek waardeer almal se omgee, belangstelling en oproepe.  Dis dit was maak dat ‘n mens net nog meer waardeer wat jy het.

Groete!
Danie


Aanhangsels wat saam met die email ontvang is:



D.J.F. SMITH
CONDUCTOR: CONCERT BAND
DIRECTOR: HOëRSKOOL WATERKLOOF CULTURE
TEL:   012-347 0277 X 130
CELL: 082 853 8698
FAX:  086 512 8755

Friday 21 October 2011

Kersfees wenslyste

Geagte ouers.

Lee Lacocca het eenkeer gesê: 



“Your legacy should be 
that you made it better than it was when you got it”

Ja, dis alweer amper Kersfees! Dis weer die tyd om uit te reik na kinders wat nie het nie... kinders wat nie ‘n huis, mamma, pappa of familie het nie. Ja, kinders in ‘n weeshuis, kinders wat weggevat is van ouers wat hulle mishandel, nie versorg nie, kinders wat geen ouer het nie. Ja ouers, dis die realiteit van die 10 huise met 102 kinders van Abram Kriel Kindershuis, Langlaagte-kampus.

Agtergrond aan ons nuwe ouers:

Ons orkes het verlede jaar betrokke geraak by die Abram Kriel Kinderhuis te Langlaagte. Ons het geskenke bymekaar gemaak vir die hele kinderhuis en daar gaan aflewer. Ons het kinders se harte bly gemaak deur dat hulle op Kersdag, ELKEEN ‘n geskenk of twee gehad het om oop te maak.

Ons het verlede jaar orkeslede gehad wat besluit het dat hulle wil nie kersgeskenke he nie, maar wil hulle s’n vir hierdie kindertjies gee.

Kan ons dit weer doen?

Indien JA, wil ek ook versoek dat u kind 100% betrokke moet raak by hierdie liefdesdaad. Hulle moet deel wees en presies weet waaroor dit gaan. Dit is altyd baie goed vir hulle om met die realiteite van die lewe daar buite hul beskermde omgewing, in aanraking te kom en kennis te neem dat daar kinders is wat baie minder het as hulle.

Hierby aangeheg is die wenslysies van elke huis by die Langlaagte-kampus.

[Die name is op die weblys verwyder omdat die blog nie net deur orkesouers gesien kan word nie. Op die oorspronklike email is die name wel bekend vir diegene wat nodig het om die identiteit 
van die kinders te weet. Ed]

Ek gaan hierdie jaar die kontrole op ‘n heel ander wyse hanteer. Ek sal sodra u vir my ‘n aanduiding gee watter kind, kinders of huis/huise u gaan neem, gaan ek dit op ‘n lys plaas en vir u epos. Sodoende sal u kan sien vir watter kind of huis u verantwoordelik gaan wees.

Ek sal maar werk op eerste geantwoord, kry die betrokke kind/huis. Dit sal die duplisering van kinders en geskenke uitskakel. Dit is ‘n groot taak om elke kind eers geholpe te kry, maar daarna gaan dit maklik.

U kan na die wense kyk, maar u kan ook net die klere koop wat ook op hul lysie is. Dit bly u keuse.

Draai asseblief die geskenke toe en plaas ‘n kaartjie op die geskenk met

1. KIND SE NAAM

2. HUIS SE NAAM soos wat dit op die lysies verskyn.

U mag ongelukkig NIE u eie naam opskryf nie en ons mag nie self met die kinders kontak maak nie. Die huisouers van die huise oorhandig die geskenke en hulle probeer om ‘n normale huisatmosfees in elke huis te skep.

Wanneer ons die geskenke gaan aflewer, word daar ‘n inventaris gemaak, ek teken daarby en dan word die geskenke op oukersaand na die huise op die kampus geneem.

Betrek asseblief u familie, vriende, gemeenskap ensovoorts. Maar help asseblief sodta ons weer hierdie kinders se harte op Kersdag kan bly maak.

Ek heg Adele van die kinderhuis se epos ook aan sodat u kan sien wat sy geskryf het.

Laat weet my asseblief baie dringend watter kind(ers) of huis u gaan neem.

Die sluitingsdatum vir al die geskenke is die dag wat die skool sluit, daarna neem ons dit kinderhuis toe.

Vriendelik versoek ek u ook om my te laat weet indien u NIE aan hierdie projek gaan deelneem nie.

Kom ons vat hande en ons raak ‘n kind in nood se lewe aan.


Vriendelike groete!

Danie

[Adele se epos]

Sent: 26 September 2011 11:05 AM

 To: Danie Smith
Subject: Kersfees wenslyste

Hi Danie,

Ek hoop alles gaan goed daar.

Uiteindelik kan ek nou die wenslyste vir jou stuur. Jammer dat dit so lank gevat het.

Aangeheg is die 10 huise se lyste vir Langlaagte. Jy sal sien dat daar 2 wense is per kind. As julle kan, asb kyk na die eerste wens en as daardie wens te duur is of julle kan dit nie kry nie dan kyk maar na die 2de wense.

Ons wil eintlik he dat die eerste geskenk nie meer as R300 is nie want anders word dit “out of control”. Ek wil nou nie vir julle se wat julle moet en nie moet nie doen nie, ons wil net van ons kant af seker maak dat dit regverdig is vir elke kind.

Asb vra maar oor enige iets as jy nie seker is nie. Ek sal baie graag help waar ek kan. Baie dankie vir al jou moeite! Ons waardeer dit baie.

Kind regards,








Monday 17 October 2011

Danie E-pos nr. 24: 17 Oktober 2011

AFSLUITINGSFUNKSIE

Geagte ouers.
    
     1. GALA-AAND

Gun my asseblief die geleentheid om weereens vir u elkeen baie baie dankie te sê vir ‘n wonderlike Gala-aand. Dis mos nou hoe ‘n Gala-aand moet wees!!
Baie baie dankie aan ELKE ouer wat ‘n aandeel in die aand gehad het, van die kaartjies tot by die blomme, van die aantrek tot by die hare, van die klank tot by die beligting en so kan ek net aangaan!! Die DANKIE kom uit my en die orkes se harte. As dit nie vir sulke ongelooflike ouers soos u was nie, sou dit glad nie moontlik gewees het nie.

Baie dankie vir die moeilike taak wat u gehad het, en dit was om die kaartjies te verkoop. Ons besef maar net weer hoe in die knyp ons gemeenskap is as ons sien dat in die verlede was dit maklik om kaartjies te verkoop, maar dit word nou al moeiliker! Ons het nie by ons doelwit van 20 kaartjies per gesin uitgekom nie, maar daar was nog steeds verskriklik baie mense. Baie baie dankie dat u steeds volgehou het om te probeer om die kaartjies te verkoop. Ek en die orkes waardeer u moeite ongelooflik baie.

Baie dankie aan Nana wat die verkope hanteer het en die moeilike taak gehad het om te sorg dat elkeen ‘n sitplek het. Ons vra ook groot om verskoning vir die dubbelbesprekings wat daar ontstaan het as gevolg van ‘n probleem, maar gelukkig kon Nana dit ‘n kits oplos!!

Baie baie dankie aan al die sms’e voor en na die konsert. Ek waardeer al u mooi wense en gelukwensings. Dit is geleenthede soos hierdie wat ons harde werk die moeite werd maak.
Nogmaals baie baie dankie aan u elkeen vir Saterdagaand!!

    2. PROGRAM VIR DIE WEEK

2.1 Ons weeklikse oefeninge word nou baie afgeskaal. Ons gaan hierdie week slegs Dinsdag 14:30 – 17:00 oefen. Ons het baie reëlings om met mekaar te tref. Ek wil ‘n dringende beroep op u en die kinders doen, en dit is dat die kinders asseblief steeds ons oefeninge voluit sal bywoon tot aan die einde (matrieks natuurlik soos wat hulle kan!).

2.2 Ons het ons jaareindafsluitingsfunksie Vrydag by Jaco Pretorius. Ons sal Dinsdag vir die kinders ‘n padkaart gee. Sien punt 3 vir res van die reëlings.

2.3 Saterdagaand: Optrede by UNISA by die Vlootorkes se HOOF VAN DIE VLOOT GALA-KONSERT.

2.3.1 Die bus vertrek 15:30 met denim, LO-hempie en orkes dri-mac. Neem koeldrank en iets te ete saam!!

2.3.2 Sound check is 16:00 – 17:00.

2.3.3 Ons tree op 17:30 – 19:00 in die foyer van die teater. Ons tree met ons konsertklere op. Meisies maak die netjies ponie (al by die huis – ons sal by teater net netjieser maak).

2.3.4 19:00 – 21:00 woon ons hulle konsert by.

2.3.5 Na afloop van die konsert vertrek die bus( McDonalds toe??!!) terug skool toe.

    3.   AFSLUITINGSFUNKSIE

3.1 Soos ons reeds met die kinders bespreek het, is ons afsluiting by Jaco Pretorius-hulle in die Irene Glen Estate.

3.2 Ry vanaf die skool met Boeingstaat weg van die skool af vir 8.3km tot u oor die R21 snelweg gaan en by die Saint George Hotel se hek kom. Die Irene Glen Estate se ingang is direk oorkant die hotel se ingang. Ons sal Dinsdag meer inligting vir die kinders gee.

3.3 Die leiers het die volgende indeling gemaak:

3.3.1 Elke seun en dogter bring hul eie vleis, eie kampstoel, swemhandoek, eetgerei (bord, mes en vurk, koeldrangbeker) en braaitang. MOENIE DIE EETGEREI VERGEET NIE ASB!!!!

3.3.2 Die kinders moet dan ook asseblief die volgende saambring:
a. SEUNSLEIERS: 2 pakke charcoal, blitz en braaiers
b. Jaco en Mnr Smith: Jaco – pap. Mnr Smith – sous.
c. LEIERMEISIES: Julle sorg vir die slaaie.
d. 1 x YSKOUE 2 LITER KOELDRANK: Elke seun bring asb ‘n yskoue 2L koeldrank saam.
e. 1 PAK CHIPS of SOUTHALLPIES IN ‘n BAK MET ‘n DOOPSOUS: Annette, Christi-Louise, Michelle, Alvina, Lara, Subel, Nerina, Ineke, Zandelie, Mariska en Izahn.
f. 1 PAK MARSHMELLOWS EN KONDENSMELK: Arthur, Werner, Estiaan, Marko, Renier.
g. KLEIN BAK ROOMYS: Bernard, Ian, Ruan, Heinrich, Christiaan, Danië V.
h. Die volgende orkeslede verjaar gedurende Okt tot Des en bring koek vir +-6 persone elk: John, Basson, Queen, Carli, Stefan, Wian, Matthys, Jacques, James.

Ouers, indien u kind nie kom nie of nie kan bring waar ons hom/haar ingedeel het nie, kontak my asseblief dadelik.

Dit is absoluut ons wens dat die hele orkes teenwoordig sal wees. Ons het baie baie hard gewerk en min saam sosiaal verkeer. Ek gaan ook dan net voor die ete die leiers vir 2012 aankondig. Die orkes het klaar gestem vir hulle leiers.

U laai asseblief u kind teen 16:00 by Jaco-hulle af. Dan gaan hulle swem en kuier en die vure aan die brand steek. Ons sal so teen 18:00 begin met die formaliteite en dadelik daarna braai. U kan dan u kind weer 21:00 oplaai. Daar is die hele tyd toesig .

Ek hoop werklik dat ek elke orkeslid teenwoordig sal hê!! Hierdie is gewoonlik ‘n baie lekker en ontspanne kuier.

     4. OPTREDES EN KERSKONSERTE

Ek is besig om hierdie reëlings te finaliseer. Sodra ek bevestiging het, sal ek dit dadelik met u kommunikeer.

Vriendelike groete!

Danie

Friday 14 October 2011

Gala Konsert 15 Oktober 2011

Geagte ouers.

In die eerste plek wil ek vir al die ouers wat so hard werk om die kaartjies te verkoop baie baie dankie sê. Daar is al ‘n paar gesinne wat die doelwit van 20 kaartjies per gesin bereik het. Op die oomblik is ons net-net oor die 500 kaartjies uit die moontlike 1000. Al probleem wat dit veroorsaak is dat die wins baie minder gaan wees as wat beplan is.

Maar baie dankie aan Nana wat dit vir ons hanteer en almal van u wat dit help verkoop – ons as orkes kan nie wag om moreaand op te tree nie.

Graag gee ek die volgende deur vir more:
     
     1.    PROGRAM

12:00 Die skool se bussie en Geraaswa vertrek met van die leierseuns en rock band na UNISA om solank op te slaan ens.

13:30 Res van orkes kom by skool bymekaar en pak bus onder leiding van Ebert. Seuns se konsertklere moet in swart kleresak wees. Bus vertrek so gou moontlik na UNISA.

14:00 Orkes kom in die ZK Mattheuws Ouditorium bymekaar.
            Meisies begin hare doen en grimeer.
Orkes trek almal hul SA Kleure aan. Nuwe lede trek gewone langmou withemp, konsertbroek aan
met die SA Das wat hulle ook more kry. Die meisies trek hul dagdrag aan.

15:00 Soliste doen klanktoets.

15:30 Orkes kom op verhoog bymekaar om te begin met kleedrepitisie. (Meisies gaan een-een aan om hare te doen).

16:00 – 17:00 Volledige klanktoets met klank en beligting.
SA Kleure-foto word geneem.

17:00 – 17:45 Kinders eet worsbroodjies.
     
     2.  AMPTELIKE TOEKEN VAN SA KLEURE 2011:

Die hele orkes gaan op die verhoog verskyn met hul SA Kleure. Dit gebeur heel aan die begin van die aand, daarom is dit belangrik dat al die seuns ‘n gewone skool withemp moet sambring saam met hul konsertbroek en die meisies almal hul dagdrag, want die dagdrag is ook die SA Kleure.

Nadat elkeen se naam uitgelees is, gaan die hele orkes op die verhoog staan met hulle SA Kleure.

Ongelukkig moet ek u waarsku, indien ‘n kind nie die regte klere daar het nie, sal hy/sy ongelukkig nie op die verhoog kan verskyn nie.
     
     3.    OPTREEKLERE:

Al die groepe tree op met presies dieselfde klere soos waarmee hulle opgetree het tydens die SA’s. 

Orkeslede moet seker maak hulle is 100% reg daarmee.

Indien u oor enige iets twyfel, kontak my asseblief dadelik!

Laastens... GENIET MOREAAND!!!!!!

Groete.
Danie

Monday 10 October 2011

SA Baadjies

Geagte ouers.

Net ‘n vinnige epos om seker te maak dat
1.     Ek u eposadres weer korrek ingelees het – antwoord asseblief op my epos sodat ek weet u ontvang dit.
2.   Dat u kind se SA Baadjie sakwapen korrek bestel is.

Maak asseblief seker u kind se baadjiegroottes is korrek. Die ideaal is om hul baadjies Saterdagaand op die verhoog aan hulle te oorhandig.

Indien u nog nie die inligting deurgegee het nie, weet ek nie of u kind se baadjie betyds gereed gaan wees nie. Indien u nog baadjies / sakwapens wil byvoeg, sms my dadelik asseblief!!

Die baadjie se prys is R600. Dit sluit die baadjie, aangewerkte sakwapen en SA-koord ook reeds aangewerk in. Sakwapen alleen kos R60.
Betaal die gelde by die kantoor in: ORKES-Baadjie-Naam.

Ek stuur later vandag vir u die weekprogram met Di. En Do. Asook die naweek se reelings.

Groete!

D.J.F. SMITH
CONDUCTOR: CONCERT BAND
DIRECTOR: HOëRSKOOL WATERKLOOF CULTURE
TEL: 012-347 0277 X 130
CELL: 082 853 8698
FAX: 086 512 8755




Monday 3 October 2011

SA Nasionale Kampioene 2011

KLOFIE ORKES

Beste Algeheel
Beste Konsertorkes
Beste Dissipline en Netheid
Beste Dirigent



foto's deur Jacques Botha