Thursday 10 May 2012

Reis saam met UP se Simfonieorkes na die planete


Reis saam met UP se Simfonieorkes na die planete

Kom luister na die Universiteit van Pretoria se Simfonieorkes se nuwe program, Symphonic Stellar Spectacular, en geniet ’n asemrowende musikale en filmiese ervaring tussen die sterre en planete. Dié program word om 19:00 op 25 Mei 2012 in die Musaion aangebied.

Die reis deur die sonnestelsel en kosmos sal begin met ‘n uitvoering van Gustav Holst se Planete, vergesel van ’n filmskouspel deur John Walton, en beloof om ’n onvergeetlike ondervinding te wees.

Vier fees saam met Jupiter, wat vir vrolikheid sorg, raak betrokke by ’n intergalaktiese stryd teen die kryger Mars, geniet die soete vrede wat kenmerkend is van Venus, of word deur die mistieke skoonheid van Neptunus betower.  Die  Magaliesberg Kinderkoor onder die bekwame leiding van Hannelie van Sittert, sluit aan by die orkes  om die manjifieke werk af te sluit.

Namate die musiek van die aand dieper in die ruimteryk indring, sal uittreksels uit die epiese filmreeks Star Wars, musiek gekomponeer deur  John Williams, ’n opwindende musikale heelal op die verhoog optower.

Spring op Hans Solo se Millenniumvalk en ervaar die triomfantelike fanfare vanaf die hooftema tot by Prinses Leia se tema, en uiteindelik die onheilspellende Keiserlike Mars. Die musikale weergawe van die verhaal van die jong Skywalker wat vasberade is om die heelal te red, is ’n fees vir die oor. Die tuimeltreinrit tussen die sterre deur eindig met ’n visuele verrassing wat die gehoor stom sal laat.

Die dirigent by hierdie geleentheid is Eric Rycroft en die program word slegs een keer uitgevoer. Kaartjies is by die deur beskikbaar en kos R100 vir volwassenes en R60 vir studente en pensioenarisse. Skakel 012 420 4183/2614 vir verdere inligting, of stuur ’n e-pos by upso@up.ac.za. 

No comments:

Post a Comment