Sunday 7 October 2012

Danie Epos nr 25: 7 Oktober 2012

Geagte ouers.

S.A. KAMPIOENE GALA-AAND…

6 DAE!!

1. SA’s 2012

In die heel eerste plek wil ek alle eer en verheerliking aan ons Hemelse vader gee vir die pas afgelope SA’s. Ons is ryklik beloon vir ons harde werk. Ek is sooooo dankbaar!

Soos wat dit al jare die gebruik by die orkes is om NIE name toe noem en ouers uit te sonder nie, wil ek steeds die volgende sê.

Baie baie dankie aan ELKE orkesouer wat so hard gewerk het om dit vir ons moontlik te maak. Ons het al gedurende Januarie hieraan begin werk – dit was NIE ‘n maklike pad nie, maar op die ou end regtig die moeitewerd. Baie dankie aan elke ouer vir u tyd, rondry, Colleen in die bus om as personeellid kinders op te pas, almal se finansiële ondersteuning, al die opoffering. Ons sou dit nie sonder u kon regkry nie!

Dan aan AL die ouers wat direk by die SA’s met hulp verantwoordelik was… baie baie baie dankie! Mag die Here u elkeen seën in net so ‘n groot mate waarmee u elkeen vir ons ‘n seëning was. U het geen moeite en finansiële uitgawes ontsien nie – en dit alles vir die SA’s en ons kinders. U elkeen is regtig ‘n engel wat God vir ons op ons pad gestuur het. Baie dankie aan elkeen wat betrokke was by die klank, beligting, décor vir optrede, klere, etes, kinders oppas, musiekboeke maak, foto’s neem, blog opdateer, ag sommer net alles!! Ek is so bang om name te noem en ek vergeet iemand! Kyk maar net vir die blog en sien die foto’s wat Jannie opgesit het.

Dankie Lynnette dat jy nog steeds saam ons is, al het jy al jare nie meer ‘n kind in die orkes nie! Dankie dat jy gehelp het met etes, vir my en die kinders opgepas het en ook bereid was om in die bus te ry om kinders op te pas – ek waardeer dit baie!

Daar het so baie agter die skerms gebeur, soos byvoorbeeld het Jannie nie gerus voor ons verhoog effekte en beligting gehad het nie, die aand voor SA’s was daar ‘n storm en toe reën al ons klere en skoene nat – nodeloos om te sê, Theunis en Susan het daardie nag GLAD NIE geslaap nie, want die klere moes weer gestryk word en die seuns se skoene moes weer skoongemaak word. Ons bus het vasgesit ion die modder daardie aand… ek weet nog steeds nie of dit Jannie met sy Jeep, Willie met brute krag of die ongelooflike sterk orkesseuns is wat die bus uitgetrek het nie… maar diep in my hart glo ek DIT WAS DIE SEUNS!!!! Ons het mos die beste, mooiste, soetste en sterkste seuns, of hoe?? J

[PS: Danie het nagelaat om te noem dat Colleen haar man en seun in Harrismith gelos het deur met die motorsleutels in haar handsak op die bus te klim! - ons weet nog nie verseker of dit met opset was nie maar ons het ons vermoedens - muwhahahahaaa!]

Ek wil net weer seker maak dat u presies weet hoe dit gegaan het…

1. Beste Ligte Musiekensemble (3e: Pta Boys Quartet 75%, 2e: Pta Boys Ensemble, 77%, 1e: Waterkloof Con Brio Ligte Musiekensemble, 79%)

2. Beste Konsertorkes (3e: Menlopark, 80%, 2e: Waterkloof Con Gusto Ligte Musiekorkes, 82%, 1e: Waterkloof Konsertorkes, 87%)

3. Naaswenner: Ligte Musiekorkes

4. Beste Dirigent (100%)

5. Beste Algemene Indruk, konsertdissipline en netheid (3e: Waterkloof Con Brio Ligte Musiekensemble, 91%, 2e: Waterkloof Con Gusto Ligte Musiekorkes, 93%, Waterkloof Konsertorkes, 100%!!)

6. En dan die grootte… BESTE GROEP VIR DIE DAG – dis die perkussiegroep, marsorkes, ensemble of konsertorkes met die algeheel hoogste punt op die kompetisie! (3e: Menlopark, 2e: Waterkloof Ligte Musiekorkes, 1e: Waterkloof Konsertorkes).

Ouers, hierdie is ‘n absolute wonderwerk wat gebeur het, maar dit was nie maklik nie. Ek glo u en u kind verstaan nou beter hoekom ons so committed moet wees en so hard moet werk – “It’s painful to be beautiful EN niks in die lewe wat die moeitewerd is, kom maklik nie!!

Ek wil nou ‘n uitsondering maak en die volgende persone bedank:

1. Engelette Kruger, Renée Hartzenberg en Peter baie baie dankie sê vir al die hulp wat julle vir my gegee het met die kamp en ook as ek siek was en dit nie self kon doen nie. Ek bid dat die Here jul ook sal seën! Julle het groot aandeel in ons orkes se musikale sukses – baie dankie daarvoor!

2. Gideon en Diets, my twee groot leiers, ons GROOT Induna’s… my woorde raak op as ek by julle kom. Baie baie dankie vir uitstekende leierskap en die leiding wat jul deurgaans neem. Julle en jul leiers is ‘n ongelooflik span. Julle het dadelik gesien as dit nie goed gaan met my nie en het onmiddelik leiding geneem en aangegaan. Baie baie dankie, julle is juwele in die kroon van Jesus.

3. Aan elke leier – baie dankie vir julle harde werk en al die drukkies. Sonder julle harde werk sou dit ook nie moontlik gewees het nie.

4. Vergewe my as ek nog een naam uitsonder. Estiaan, jy was my beskermengel en het my nooit onder jou oë laat uitgaan nie. Dankie vir alles wat jy vir my gedoen het, dat jy my opgetel het as ek geval het, dat jy my hande omhoog gehou het as ek moeg was, dankie dat jy altyd naby was as ek sleg gevoel het, dankie dat jy vir my gesorg het. Mag die Heer jou ook ryklik seën!

Maar nou ja, terug na die realiteite van die vierde kwartaal.

2. S.A. BAADJIES

2.1 Die SA-baadjies is bestel en sal gereed wees vir ons Gala-aand. Om te kwalifiseer moes u kind die oudisie voor die SA’s 100% geslaag het. Daar is ongelukkig nuwe lede wat dit nie geslaag het nie, maar ek het hulle uit respek vir hul harde werk wel laat optree met die duidelike verduideliking dat indien ons sou wen, hulle nie kan kwalifiseer nie.

2.2 Alle gelde moet asseblief op die laatste Dinsdag by die skool inbetaal wees – aflewering is Woensdag!!

2.3 Die inbetalings sel verwysing is ORKES-Baadjie-kind se naam. Moet asb GEEN ander verwysing gebruik nie!!

2.4 Gelde is noodsaaklik om AL die baadjies te kry. Antex lewer nie af indien gelde nie betaal is voor aflewering nie.

2.5 Die prosedure gedurende die toeken van SA-kleure Saterdagaand is soos volg:

2.5.1 Die nuwe lede kry eerste hul baadjies. Hul baadjie hang oor hul arm en wanneer hul naam uitgelees word, kom hy/sy op die vergoog en ek trek die baadjie vir hom/haar aan, maak die knoop vas en wens geluk. Daarna stap die orkeslid na die Admiraal en skoolhoof vir ‘n handdruk en gaan staan agter op die verhoog.

2.5.2 Daarna is dit die seniors wat hertoekennings kry. Hulle het reeds hul baadjies aan. Hul kom tot by my en ek maak die seuns se boonste baadjieknoop vas (maak asb seker daar is knope aan!!) en wens die seun geluk. Die meisies se knoop word NIE vasgemaak nie. Ek wens hul net geluk. Daarna draai hulle om en gaan na die Admiraal en hoof. Gaan staan ook agter my. Laastens kom die 3 op met hul swart baadjies. Dieselfde prosedure as die nuwe lede word gevolg met baadjie oor arm.

3. PROGRAM VIR DIE KWARTAAL

Ouers, hierdie is ook maar ‘n besige kwartaal, maar ons bestuur ons situasies soos wat dit opkom. Ek heg ‘n opgedateerde program vir u aan. Hierdie gaan ‘n wilde week wees, maar daarna skaal dit aansienlik af.

Ek het net een dringende versoek: ONDERSTEUN MY ASSEBLIEF END-UIT.

Tradisioneel maak ouers en orkeslede dit vir my ongelooflik moeilik met optredes en die paar oefeninge na die SA’s. Ek vra asseblief u ondersteuning sodat dit asseblief nie weer hierdie jaar gebeur nie. Ons het nog ‘n paar oefeninge wat voorlê met ‘n paar optredes. Maak my hande asseblief sterk en moenie u kind nou begin weghou nie. Dit is vir ons uiters moeilik om met ‘n halwe orkes op te tree of te oefen. Ons het nodig om voor te berei vir die Gala-aand, kerkmusiek om aan te leer (wat darem nie moeilik is nie) en ‘n paar kerkoptredes.

3.1 Ons gaan Dinsdag, Woensdag en Donderdag oefen om voor te berei vir die Gala-aand en ook om voor te berei vir die Dankfees van 18 Oktober.

3.2 Ons gaan nie meer Vrydag UNISA toe vir kleedrepitisie nie, maar AL die nuwe ledemoet die Geraaswa onder leiding van Marko en Gideon Vrydag direk na skool gaan was terwyl die klankspan die klankstelsel skoon maak en verpak. Nadat die Geraaswa skoon gemaak is, word die klankstelsel en perkussie-instrumente verpak vir Saterdag. Estiaan moet die reëlings met die klankspan tref en Gideon met die perkussielede en Marko met die nuwe lede vir die was van Geraaswa.

3.3 Ons program vir Saterdag is soos uiteen gesit op die aangehegte program. LET WEL, daar is nie ‘n bus na afloop van die konsert nie en dat AL die kinders na afloop van die konsert moet help om op te pak soos wat hul takies is. Ek gaan dit streng kontroleer, afmerk en optree teen kinders wat wegraak en nie help nie. Dis onregverdig dat daar steeds ouers is wat hul kinders na optredes vat en ry en ander kinders moet al die oppak werk doen. U moet asseblief besef, dit gaan vir die HELE orkes ‘n baie lang dag wees en ALMAL gaan moeg wees. Moet dus nie u kind vat en ry en die las vir ander kinders en vir my swaarder maak nie. Dis net nie regverdig nie!

3.4 Die kinders vertrek by die skool om 14:00 met denim en orkes T-hempie. Na afloop van die opstel en klanktoets, trek al die kinders hul SA’s kleure aan. Die kinders wat vir die eerste keer SA’kleure ontvang trek die volgende aan:

3.4.1 SEUNS: Konsert swart broek met swart house en swart gordel & gewonde langmou wit hemp met SA-das wat hul daar kry.

3.4.2 MEISIES: Susan sal met meisies reël, maar dit is die swart SA-rompie en wit SA-bloesie met konsert skoene en sykouse. GEEN juwele.

3.5 Daar mag GEEN balkies of enige iets op die SA-baadjies wees nie behalwe die orkeslede wat nog die kentekens het van hul instrumente het. Dis al balkie wat toelaatbaar is op ‘n SA-baadjie.

3.6 Seuns moet ‘n sakdoek in hul sakke hê en hul skoene moet so skoon wees soos wat hulle dit in Empangeni gemaak het vir die SA’s!

3.7 Pak vir u kind koue water en koeldrank in asook ietsie om aan te peusel in vir die dag. Ons sal so teen 5 uur vir die kinders ietsie te ete gee.

3.8 Die konsert begin stiptelik 19:00 en gaste wat laat is sal nie toegang tot die ouditorium kan kry nie. Gaste moet hul toegangskaartjies saambring!

3.9 Na almal hul SA-kleure ontvang het, word ‘n groepfoto geneem.

3.10 Dan stap die kinders af en die Ligte Musiekensemble kry hul instrumente en sten baie vinnig terwyl die Admiraal sy 3 minute toespraak lewer!

3.11 Direk na die Admiraal se toespraak, word die verhoog reg geskuif soos vir die die Ligte Musiekorkes se vloerplan deur ons pappas wat dit by die SA’s gedoen het. Die Ensemble stap op en tree op met hul SA-kleure.

3.12 Direk na afloop van die ensemble, kom die die Ligte Musiekorkes op en tree op (ook met SA-kleure).

3.13 Dan is daar ‘n 20 minute pouse (geen verkope op hierdie stadium! UNISA se kiosk vra R2000 om vir die aand oop te maag – en ons wil geld bymekaar maak vir die toer!!).

3.14 Gedurende pouse trek die orkes vinnig hul konsertklere aan, stem en gaan staan gereed vir optrede na pouse.

3.15 Die res is “history”!

3.16 In ‘n meer ernstige lig. U moet asseblief kennis neem dat hierdie is eerstens ‘n konsert wat aangebied word deur ons leiers en kinders. Hierdie is hul hoogtepunt en hulle trots. Kom ons maak dit vir hulle ‘n konsert om nooit te vergeet nie!

3.17 LEIERVERGADERING i.v.m. GALA-AAND WOENSDAG NA OEFENING – AL DIE LEIERS MOET TEENWOORDIG WEES VIR TEN MINSTE 1 UUR!

3.18 Op 16 en 18 Oktober oefen ons vir die Dankfees by NG Kerk Elarduspark. Sien detail op program. Ons tree dan almal op met SA-kleure!!  Tussen die twee dienste word u genooi om saam tee te drink. Op 18 Oktober gaan ons by die kerk oefen en na die oefening los ons die verhoog net so vir Sondag se twee dienste. U kan u kind dan om 17:30 sommer by die kerk kry anders sal die kind per skoolbus terug gaan skool toe.

4. VLOOTORKES

4.1 Die jaarlikse Vlootorkes Gala-aand vind plaas op saterdagaand 3 November in die ZK Mattheuws Ouditorium. Dit is ‘n absolute hoogtepunt om hierdie prestige geleentheid saam met ministers, generaals, burgemeesters ens. by te woon.

4.2 Ons vertrek om 14:00 vanaf die skool per bus en die kinders moet hul orkes T-hempie en denim aantrek. Ons stel om 15:00 op met klanktoetse en alles. Dan moet ons binne protokol begin werk – dus is tyd van kardinale belang. Ons sit weer langs die rooi tapyt en speel waar al die groot koppe arriveer!

4.3 Onthou om vir u kind iets te eet en te drink in te pak. Dit gaan ‘n baie lang dag wees.

4.4 Elke kind kry ‘n kaartjie om die Vlootorkes se vertoning by te woon. Daar is ook hierdie jaar kaartjies vir ons ouers beskikbaar. U moet my asb per sms of op hierdie epos antwoord indien u die aand wil bywoon.

4.5 Die ergste van alles is, hierdie is die matrieks se laaste formele optrede voor die laaste Kerssangdiens…

5. TOER NA DIE VSA

5.1 Op 29 Oktober om 19:00 gaan ons ‘n oueraand hê waar ons sal moet besluit oor die toer na die VSA volgende jaar.

5.2 Ek hoop u sal almal daar kan wees. DJ gaan dan die toerprogram voorlê waarna ons die besluit sal moet neem.

5.3 Hierdie besluit beinvloed die totale program vir 2013.

5.4 Ek hoop om u almal daar te sien!

Laastens wil ek baie dankie sê aan elke ouer wat ons Gala-aandkaartjies so fluks verkoop. Hierdie gaan ‘n aand wees om nie gou te vergeet nie!!

Vriendelike groete!

Danie






D.J.F. SMITH
HOëRSKOOL WATERKLOOF
DIREKTEUR KULTUUR
KONSERTORKES: DIRIGENT
Selfoonnommer:  082 853 8698
Telefoonnommer (skool):  012 – 347 0277 X 130
Faksnommer:  086 512 8755


No comments:

Post a Comment