Thursday 10 January 2013

Danie Epos nr 1: 2013


Geagte ouers.

ONS KONSERTORKES IS 10 JAAR OUD!!

‘n Hartlike Jesus-welkom terug aan u almal.  Mag hierdie vir ons ‘n liefdevolle en vreugdevolle jaar wees propvol seëninge en voorspoed.  Hierdie is ons 10de verjaarsdag-jaar en ek sien ongelooflik uit na ons reuniekonsert.

Baie welkom aan al ons nuwe orkeslede! Hulle moet asseblief op hierdie eposse reageer en inskakel volgens ons program.

    1.  UITSLAE 2012

1.1             Dit het baie goed gegaan met Armand, Liné en Marko.  Baie geluk aan Armand wat 4 onderskeidings behaal het in LO, Musiek, Nat. Skei en Engels en Marko wat 3 onderskeidings behaal het in Afrikaans, Engels en LO.  Ons is baie trots op julle.

1.2             Baie geluk ook aan die res van die orkes wat geslaag het.  Ek het probeer tel hoeveel onderskeidings daar in die orkes is, maar het by 50 opgehou tel, want dit was te veel werk en ek het nie tyd gehad op klaar te soek op die rekenaar na elke kind se rapport nie! Maar sjoe, ons kinders het weereens uitstekend gedoen!!  Baie baie geluk aan elkeen.  Ek bly staan by wat ek elke jaar sê, en dis jammer dat daar steeds ouers is wat my nie glo nie!! 

Die orkes leer ons kinders om gedissiplineerd te leer, te prioritiseer, te konsentreer en om in ‘n baie kort tydjie maksimum werk in te sit.  Kyk maar jaarliks na ons uitslae!! Die ouers moet dit nou nog net begin glo en raaksien! J

Ek is baie trots op ons orkeslede, weereens ‘n 100% slaagsyfer!!

1.3             Baie geluk aan Ulrich en John wat nou in Gr 8 is en nou volwaardige Klofies is!!

    2.  BLOG

Die blog  help om inligting by ouers uit te kry, maar ook om belangstellendes op ‘n informele en op ‘n gesels-trand te prikkel. 

U moet ook asseblief die hele tyd in gedagte hou dat ons die blog op ‘n sosiale vlak bedryf en dat dit nie ‘n professionele webblad is nie en ons wil dit graag so hou.

[Sorry, ek weet julle wil graag 'n meer professionele webbad gehad het  maar professioneel is sooooo boring!  sorry Maestro ;) -Ed]

Dankie ook aan Estiaan en Jacques vir al die foto’s op ons blog.  Die blog sal nie dieselfde wees sonder al die foto’s nie.  Foto’s vertel altyd ‘n beter storie as woorde.

Indien u van die orkes foto’s neem en ons kan dit op die blog plaas, epos asseblief u foto’s vir Jannie!! 

Ouers, ek gaan hierdie jaar al hoe meer van die blog begin gebruik maak om inligting te kommunikeer.  Skakel asb in op ons blog. Met elke opdatering sal u ‘n epos kry waarin die verandering en opdatering aangedui word. My ideaal is om dit as ons enigste kommunikasiemiddel te gebruik en nie meer eposse uit te stuur nie.  Registreer asseblief sou gou moontlik op ons blog.

Die blog se adres is klofieorkes@blogspot.com


    3.  JAARBEPLANNING

Die Jaarbeplanning sal vandag op die blog verskyn.  Ek het dit klaar vir Jannie gestuur.  Ek moet u egter net weer daaraan herinner dat hierdie beplanning is wat ek gereel opdateer.  Ek is afsiek tot volgende week en sal dan eers die nuutste skoolprogram kan kry.  Maar ek glo ons jaarbeplanning is redelik op datum en in lyn met die skoolprogram.

Die belangrikste aspekte wat ek nou net wil uitlug is die volgende:

3.1             Peter oefen met die orkes vir die Groentjiekonsert wat alreeds volgende week Donderdag plaasvind.  Dis hoekom ons so vinnig alreeds begin oefen.  Daar is slegs 2 oefeninge en dan is dit groentjiekonsert.
3.2             Volgende week Dinsdag is huissport en ons sal dus nie kan oefen nie.
3.3             Ons oefen volgende week WOENSDAG en sal dan ook moontlik die Skoollied en Volkslied saam met die Druppels oefen.

    4.  DRUPPELKONSERT

4.1             Ek het nog nie die inligting rakende die tye vir  Donderdag, 16 Januarie  nie.  Sodra ek dit ontvang sal ek dit met u kommunikeer. 
4.2             Dit is gewoonlik ‘n lang dag.  Ons oefen na skool, trek dan denims en die skool se blou LO-hempies aan, repiteer ‘n finale keer saam met die Gr 8’s en dan is dit die 2 vertonings. 
4.3             U moet asb vir u kind kos en genoeg drinkgoed inpak.
4.4             Daar is gewoonlik 2 vertonings.

    5.  NAWEEKOEFENING

5.1             Ons Januarie naweekoefening is 25 & 26 Januarie.  Sien Jaarbeplanning.
5.2             Etegeld beloop R60 vir die naweek per kind. 
5.3             Ek sal volgende week meer inligting gee.

    6.  KONSERTMEESTER EN SOLISTE 2013

6.1             Die uitspeel vir soliste is ‘n redelike sensitiewe ou sakie elke jaar.  Kinders en ouers is baie ongelukkig na afloop van al die uitspele en ek kry elke keer ouers wat my beskuldig van voortrekkery,
onredelikheid ensovoorts.  Ouers, ek wil dit nou baie duidelik stel. EK HET NIE WITBROODJIES IN DIE ORKES NIE – ek is lief vir ELKE orkeslid en ek neem my besluite vir wat reg is vir die totale orkes en NIE om guns by enige ouer of kind te kry nie.  Wanneer die kinders uitspeel, is u as ouer baie welkom om te kom insit as ek dit doen.  Die paneel wat saam met my sit is die hoofleier, onderhoofleier en hoofmusikant.  Hulle evalueer saam met my, maar my besluit is en bly finaal.  Kinders kan nie na afloop van die uitspeel weer na my toe kom en sê hul wil weer probeer nie.

6.2             Nou hoe doen ek dit? 

6.2.1       Ek laat sak die fliekskerm op die verhoog en trek die gordyne toe sodat ek en my paneel op die verhoog agter die skerm sit en nie in die saal kan insien nie.
6.2.2       Die hele seksie staan in die saal en kry elkeen ‘n nommer wat hulle self kies – ek weet nie wie het watter nommer nie. 
6.2.3       Dan roep en ‘n nommer en die kinders moet hul toonlere en musiek 2012 speel. Hul kry ook ‘n onvoorbereide stuk wat hul daar ontvang  en dadelik moet speel.
6.2.4       So evalueer ek dan elke kind VOOR ALMAL en plaas hulle van stem 1 tot waar hul ookal gaan.  Die kind wat ek as nommer 1 plaas, is die solis in daardie seksie indien daar solo’s vir die betrokke seksie is.
6.2.5       Nadat ek die evaluering gedoen het, kyk ek wat die res van die paneel beoordeel het en ek bespreek my bevinding met hulle.  Indien ons verskil, laat ek die kinders oor speel.
6.2.6       Nadat hulle met my saamstem, kom ek agter die gordyn uit en lees die volgorde van die nommers.  Danie sien ons ook vir die eerste keer wie was wie!  Al die kinders het dus ‘n gelyke kans om hier te kan uitspeel as solis.

6.3             Ek glo u kan sien dat hierdie is ‘n baie regverdige wyse wat internasionaal gebruik word om musikante te beoordeel en te keur.

6.4             Indien ‘n kind nie wil speel nie, plaas ek die kind waar ek hom/haar nodig het, maar kom dan nie in aanmerking vir die nommer 1, 2 of 3 posisie nie.  Waar daar seksies in van kinders van 3 en minder, mag hul met my kom praat om nie uit te speel nie. In sulke gevalle vereis ek ‘n brief van al die ouers waarin hulle toestemming gee dat die kinders nie hoef uit te speel nie.  Dan bly die posisies soos gedurende 2012. Seksies van 3 en meer MOET uitspeel, veral as daar solo passasies betrokke is. 

6.5         KONSERTMEESTER 2013

6.5.1       Die Konsertmeester (hoofmusikant) se pos is ook vakant.  Die kandidate wat hiervoor in aanmerking kom en ge-evalueer gaan word is Michelle Hartzenberg, Ian Stapelberg, Jacques Tredoux en Annette Cilliers.  Hulle word van dag 1 af deurlopend ge-evalueer met die hoogtepunt gedurende ons Februarie-naweekoefening.  

6.5.2       Wat word van ons Konsertmeester verwag:
6.5.2.1.     Moet instrument 100% bemeester het
6.5.2.2      Moet musiek 100% kan bladlees en dadelik kan speel wat hy/sy sien
6.5.2.3      Moet ‘n perfekte oor he (omtrent die belangrikste eienskap!!)
6.5.2.4      Moet musiek kan transponeer om die verskillende instrumente wat in verskillende sleutels is, te kan help
6.5.2.5      Moet uitstekende leierseienskappe besit
6.5.2.6      Moet seksieoefeninge kan hanteer en moet ook met die orkes kan aangaan en help indien ek nie daar is nie.

Die nuwe Konsertmeester word Saterdag, 2 Februarie aangekondig.  Baie sterkte aan hierdie 4 kandidate!!

    7.  KAMP EN TOER 2013 EN 2014

7.1             Soos wat ons verlede jaar op ons laaste oueraand besluit het, gaan ons nie die jaar in die buiteland toer nie, maar wel ‘n orkeskamp hê 31 Maart tot 6 April en ons Kaapse toer 4 – 14 Julie.
7.2             Ons is nog besig om te kyk na ons buitelandse toer vir volgende jaar en behoort spoedig na u toe te kom met voorstelle.  My ideaal is om met ons eerste oueraand die opsies op die tafel te hê. Ons moet hierdie besluit afhandel voor einde januarie of so na as moontlik daaraan.  Ek sal u op hoogte hou.
7.3             Ek het reeds ons kamp by Kwalata bespreek en die kampgeld is R2,150.00 per orkeslid, alles ingesluit (bus na kamp, alle etes, fasaliteite en slaapplek).  Die kamp gaan veral ons Matrieks baie help en dit gaan ons orkes ‘n groot hupstoot gee sodat ons vinniger op standaard is en dan kan ons gemakliker wees met ons oefentye gedurende eksamentye.
7.4             Ek is nog besig met al die kwotasies vir ons toer.  Ek sal dit ook spoedig afhandel.

Dan wil ek ook baie baie dankie sê vir al die sms’e, bbm’s, oproepe en besoeke terwyl ek in Kardiologie ICU was.  

[Maestro het Saterdagaand 'n ernstige hartaanval gehad terwyl hy alleen by die huis was.  Hy was op pad vanaf die kombuis na die slaapkamer met 'n glas water toe hy skielik sy bewussyn verloor het.  Hy het geval en bo-op die glas te lande gekom (wat gebreek het). Die glasskerwe het diep in sy arm ingesny  en die wond het geweldig begin bloei.  

Maestro was gelukkig dat hy homself nie doodgebloei het nie.  Hy het gekruip tot in die badkamer waar Estiaan hom later bewusteloos gevind het.  Estiaan het mooi kop gehou en met Danie na die Kloof hospitaal gejaag (met Danie se BMW) waar hy gestabiliseer is en na die Wilgers hospitaal se ICU oorgeplaas is.    Danie was Dinsdagmiddag nog steeds in die ICU en is  gister (Woensdag) ontslaan (moenie vra nie - ek verstaan daardie een ook nog nie).  By die huis gekom het hy hierdie epos geskryf, musiek gefinaliseer vir die orkes en opdragte begin uitdeel soos net Maestro kan.  Sy normale en gewone week se bedrywighede!          ;)    

Estiaan,  wel gedaan!  Maestro,  jy het nie 'n gelyke nie en is 'n voorbeeld van die uitdrukking dat respek verdien word en nie van selfsprekend kom nie!  - Ed]

Ek het elkeen se belangstelling en beterskapwense baie waardeer.  Ek hoop om volgende week Vrydag weer op my pos te wees.  Intussen gaan Peter en Terrence met die oefeninge aan tot ek gesond genoeg is om weer by hulle oor te vat.

Op ‘n ligter luim.  Ek wil net noem dat ek NIE die etiket van eposse volg nie...   Moet dus asseblief nie ervaar dat ek op u skree as ek uitroeptekens, kleur en hoofletters gebruik nie!!! (oeps, daar doen ek dit weer…).  As ek op u wil skree, sal ek met u ‘n afspraak maak J.  Ek gebruik hoofletters en kleur slegs om sake van belang uit te lig.  Sien dit asseblief in hierdie lig.

Beste wense.

Danie










 






D.J.F. SMITH
HOëRSKOOL WATERKLOOF
DIREKTEUR KULTUUR
KONSERTORKES: DIRIGENT
Selfoonnommer:  082 853 8698
Telefoonnommer (skool):  012 – 347 0277 X 130
Faksnommer:  086 512 8755


No comments:

Post a Comment