Wednesday 10 August 2011

Danie Epos 18: 10 Augustus 2011


Geagte Ouers.

Hierdie is 'n baie rowwe deel van ons orkes- en akademiese jaar.  Dit gaan wild met die bespreking van die skoolsaal, oefeninge tussen aktiwiteite ensovoorts.  Daarom vra ek asseblief u begrip en geduld omdat ek kort-kort aan ons program moet karring.  Weet dit, wanneer ek moet verander, is dit deeglik ondersoek, bespreek en planne gemaak.

1.    KWARTAALPROGRAM

Ek heg vir u die nuutste program aan, werk asseblief slegs volgens hierdie een en ignoreer alle vorige beplannings. Die program vir hierdie week is soos volg:


1.1    Do. 11 Augustus:    Geen oefening a.g.v. die Ekspo Gala-aand (waaraan baie van ons orkeslede deelneem). Die saal is die hele dag buite perke vir alle aktiwiteite.


1.2    Vr. 12 Augustus:    Naweekoefening vir die hele orkes 14:30 - 21:00.  Aandete en koffie is R30 en lede moet dit Vrydag by Jacques inbetaal.


1.3    Sa. 13 Augustus:    Ligtemusiek Ensemble oefen vanaf 08:30 en verdaag 13:00.  Geen ontbyt of middagete word voorsien nie.


1.4    Sa. 13 Augustus:    Optredes - sien punt 2.
Gaan die aangehegte Jaarprogram deeglik na en vergewis u van ons program.  Soos u kan sien, daar is nie meer veel oefeninge oor voor die SA's nie. Daarom versoek ek u dringend om my te help om by hierdie oefenprogram en optredes te kan hou. Die optredes is vir my ongelooflik belangrik omdat die tye is waar ek die orkes kan evalueer om te sien hoe reageer hulle onder druk. Dit help weer om die daaropvolgende oefeninge te beplan.


Die oefenweek in September is van kardinale belang.  Ek versoek al van die begin van die jaar af dat die spesifieke week 100% oop gehou moet word vir hierdie finale oefenweek voor die SA's.  Dit sluit musieklesse ens. in.  Indien 'n orkeslid in hierdie week (matrieks uitgesluit) afwesig is, sal hul nie aan die SA's deelneem nie.  U hulp word in hierdie verband gevra.


2.    OPTREDES: 13 AUGUSTUS


15:30    Orkeslede arriveer en begin bus pak.  Meisies het klaar hul toppies aan en trek rompe by teater aan.  Seuns het klaar broek, konserthemp en krawat aan met onderbaadjie in kleresak.  


AL die  kinders dra hul orkes Drimac bo-oor die konsertklere.  Indien 'n kind NIE die orkes se drimac het nie, moet hulle die skool se drimac aantrek. GEEN ander baadjies.  


HIERDIE IS STANDAARD REELINGS EN DIT MOET MET ELKE OPTREDE GEBEUR.


16:00    Vertrek na die Atterbury Teater. 


17:00    Klanktoets.


18:00 - 18:50    Optrede.  Slegs die Ligtemusiek-Orkes gaan optree. Die res van die orkes gaan steeds saam om ons te help sodat daar bitter vinnig opgepak kan word. Ons het 'n uur om op te pak, Affies toe te ry en daar weer op te slaan en 20:00 op te tree.  Ek gaan elke kind se samewerking ongelooflik nodig hê.


19:00    Oppak en hardloop vir die bus.


20:00    Optrede (hele orkes in konsertklere!) by die Afrikaanse Hoër Seunskool Musiekaand.  Bus vertrek terug skool toe na afloop van die optrede.


3.    OUERAAND:  15 AUGUSTUS

Vriendelik versoek ek dat ons baie dringend bymekaar moet kom om die volgende sake te bespreek:


3.1    Superligakompetisie te H/s Waterkloof op Sa. 27 Augustus.


3.2    SA-kompetisie te H/s Waterkloof op Vr. 30 September en Sa. 01 Oktober.  Daar is vrae rondom die Gr. 10 Bal. Ek kan niks daaraan doen nie, die SA's se datum is 'n nasionale datum wat ek nie kan skuif nie.


3.3    Ons formele konsert op 15 Oktober.


3.4    Die besoek van die Hahnbacher Marktblaser (Duitse orkes) einde Augustus begin September.  Hulle tree byvoorbeeld saam met ons op by die Sarie Food and Wine Fair op 04 September. 


Vriendelike groete!


Danie

No comments:

Post a Comment