Friday 25 November 2011

Danie Epos nr 28: 25 November 2011

Geagte ouers.

Ek hoop dat dit nog sommer baie goed gaan met julle almal!!  Graag gee ek die volgende aan u deur:

     1.     OPTREDE EN KERSSANGDIENSTE

1.1               Saterdag, 26 November:  UP formele dinee
Orkeslede moet op die laatste 15:30 hier wees om hul konsertklere aan te trek en die bus te pak (seuns trek by die huis aan) – ONTHOU DIE SA-BAADJIES!!  Meisies maak weer netjiese ponies soos met vorige optredes.  Die bus vertrek 16:00 by die skool.   Ons speel tot 19:00 en kom direk daarna terug.

1.2               Sondag, 27 November:  NG kerk Monumentpark
Baie dankie aan elke orkeslid wat verlede week Vrydag so hard geoefen het vir die Kerssangdienste.  Dit was ‘n wonderlike ervaring so saam met die orkes en veral ook toe die orrel saam met ons geoefen het.  Dit klink werklik baie goed.  Ons hoop dat u almal die diens om 18:30 saam met ons sal kan bywoon.  Maar wees gewaarsku, KOM VROEG om plek te kry!!

Die bus vertrek Sondag om 16:00.  Die orkeslede moet klaar hul SA-kleure aanhê.  Ons het ‘n oefening saam met die orrel en koor.  Na afloop van die diens is ons en ons ouers genooi om koffie, tee en verversings saam met die gemeente te geniet.   Daarna vertrek die bus terug skool toe of orkeslede ry saam hul ouers.

1.3               Sondag, 4 Desember:  VEK, Gezina
Die bus vertrek om 16:00.  Orkeslede moet klaar hul SA-kleure aanhê.  Die diens begin 18:30.  Hierdie Kerssangdiens verskil van die 27e se diens.  Ons orkes is totaal verantwoordelik vir die diens.  Baie dankie aan Armand, Jacques, Christi-Louise, Renier, Ineke, Subel en Annette wat my help om die diens te behartig.

Ouers word ook deur die kerk genooi om die diens saam met ons by te woon.  Na afloop van die diens geniet ons tee en verversing saam met die gemeente.  Daarna vertrek die bus terug skool toe.

     2.     DIENS VAN INSTRUMENTE

Terrence het vir ons orkes ‘n spesiale aanbod om dankie te sê vir wat ons vir hom beteken het die afgelope jaar.  Hy gee aan elke orkeslid wat sy/haar instrument nou by hom laat diens, 20% afslag op die reeds goeie afslagprys wat hy vir ons orkeslede vra.

Ek wil u aanmoedig om van hierdie aanbod gebruik te maak, want ons instrumente het

      a.       baie baie hard gewerk,
      b.      onderhoud/dienste verleng instrumente se lewensduur,
      c.       die voorwaarde vir die gebruik van skoolinstrumente is dat dit gereeld gediens moet word.

Kontak vir Terrence by 084 941 0623 om ‘n afspraak te maak.

     3.     GESKENKE VIR ABRAM KRIEL KINDERHUIS

Ek plaas weer die wenslysies vir u finale kontrole.  Daar het egter nuwe kinders bygekom.  Sal u asseblief daarna kyk en by vriende / familie hoor wie kan ons met hulle help.  Die kinders wat bygekom het is in die volgende huise:

3.1          Huis De Beer:     3 nuwe kinders
3.2          Huis De Klerk:    1 nuwe kind
3.3          Huis Tribelhorn: 2 nuwe kinders.

Ek hoop werklik ons kan hierdie kinders ook help!

Al die geskenke moet asseblief as volg hanteer word:

      a.       Draai asb die geskenke so toe dat die papier nie skeur wanneer dit verpak en vervoer nie.
      b.      Skryf asseblief die kind se NAAM en HUIS op die kaartjies.
      c.       Moet asb NIE u eie naam opskryf nie.  Die huisouers gee die persente aan die kindertjies op oukersaand waar hulle saam as ‘n gesin is.
      d.      Al die geskenke moet by my wees op die laatste teen Vrydag, 2 Desember (reeds toegedraai asb!). Ek is elke dag tot ongeveer 12 uur by die skool beskikbaar.

Laastens wil ek u weer versoek, betrek asseblief u kinders by hierdie liefdesdaad.  Dit is belangrik dat ons kinders ook hieruit iets leer.   Dis baie belangrik dat hulle ook leer en ook weer opnuut moet besef,  dat ons vir minder bevoorregte kinders moet omgee EN dat ons baie baie dankbaar moet wees vir ons eie ouers en vir die voorregte wat hul het.

Baie dankie vir u oop harte en die hulp aan hierdie kindertjies!

Groete!

Danie


D.J.F. SMITH
DIRIGENT: HOëRSKOOL WATERKLOOF KONSERTORKES
DIREKTEUR KULTUUR
TELEFOONNOMMER:   012-347 0277 X 130
SELNOMMER: 082 853 8698
FAKS:  086 512 8755

No comments:

Post a Comment