Friday 21 October 2011

Kersfees wenslyste

Geagte ouers.

Lee Lacocca het eenkeer gesê: 



“Your legacy should be 
that you made it better than it was when you got it”

Ja, dis alweer amper Kersfees! Dis weer die tyd om uit te reik na kinders wat nie het nie... kinders wat nie ‘n huis, mamma, pappa of familie het nie. Ja, kinders in ‘n weeshuis, kinders wat weggevat is van ouers wat hulle mishandel, nie versorg nie, kinders wat geen ouer het nie. Ja ouers, dis die realiteit van die 10 huise met 102 kinders van Abram Kriel Kindershuis, Langlaagte-kampus.

Agtergrond aan ons nuwe ouers:

Ons orkes het verlede jaar betrokke geraak by die Abram Kriel Kinderhuis te Langlaagte. Ons het geskenke bymekaar gemaak vir die hele kinderhuis en daar gaan aflewer. Ons het kinders se harte bly gemaak deur dat hulle op Kersdag, ELKEEN ‘n geskenk of twee gehad het om oop te maak.

Ons het verlede jaar orkeslede gehad wat besluit het dat hulle wil nie kersgeskenke he nie, maar wil hulle s’n vir hierdie kindertjies gee.

Kan ons dit weer doen?

Indien JA, wil ek ook versoek dat u kind 100% betrokke moet raak by hierdie liefdesdaad. Hulle moet deel wees en presies weet waaroor dit gaan. Dit is altyd baie goed vir hulle om met die realiteite van die lewe daar buite hul beskermde omgewing, in aanraking te kom en kennis te neem dat daar kinders is wat baie minder het as hulle.

Hierby aangeheg is die wenslysies van elke huis by die Langlaagte-kampus.

[Die name is op die weblys verwyder omdat die blog nie net deur orkesouers gesien kan word nie. Op die oorspronklike email is die name wel bekend vir diegene wat nodig het om die identiteit 
van die kinders te weet. Ed]

Ek gaan hierdie jaar die kontrole op ‘n heel ander wyse hanteer. Ek sal sodra u vir my ‘n aanduiding gee watter kind, kinders of huis/huise u gaan neem, gaan ek dit op ‘n lys plaas en vir u epos. Sodoende sal u kan sien vir watter kind of huis u verantwoordelik gaan wees.

Ek sal maar werk op eerste geantwoord, kry die betrokke kind/huis. Dit sal die duplisering van kinders en geskenke uitskakel. Dit is ‘n groot taak om elke kind eers geholpe te kry, maar daarna gaan dit maklik.

U kan na die wense kyk, maar u kan ook net die klere koop wat ook op hul lysie is. Dit bly u keuse.

Draai asseblief die geskenke toe en plaas ‘n kaartjie op die geskenk met

1. KIND SE NAAM

2. HUIS SE NAAM soos wat dit op die lysies verskyn.

U mag ongelukkig NIE u eie naam opskryf nie en ons mag nie self met die kinders kontak maak nie. Die huisouers van die huise oorhandig die geskenke en hulle probeer om ‘n normale huisatmosfees in elke huis te skep.

Wanneer ons die geskenke gaan aflewer, word daar ‘n inventaris gemaak, ek teken daarby en dan word die geskenke op oukersaand na die huise op die kampus geneem.

Betrek asseblief u familie, vriende, gemeenskap ensovoorts. Maar help asseblief sodta ons weer hierdie kinders se harte op Kersdag kan bly maak.

Ek heg Adele van die kinderhuis se epos ook aan sodat u kan sien wat sy geskryf het.

Laat weet my asseblief baie dringend watter kind(ers) of huis u gaan neem.

Die sluitingsdatum vir al die geskenke is die dag wat die skool sluit, daarna neem ons dit kinderhuis toe.

Vriendelik versoek ek u ook om my te laat weet indien u NIE aan hierdie projek gaan deelneem nie.

Kom ons vat hande en ons raak ‘n kind in nood se lewe aan.


Vriendelike groete!

Danie

[Adele se epos]

Sent: 26 September 2011 11:05 AM

 To: Danie Smith
Subject: Kersfees wenslyste

Hi Danie,

Ek hoop alles gaan goed daar.

Uiteindelik kan ek nou die wenslyste vir jou stuur. Jammer dat dit so lank gevat het.

Aangeheg is die 10 huise se lyste vir Langlaagte. Jy sal sien dat daar 2 wense is per kind. As julle kan, asb kyk na die eerste wens en as daardie wens te duur is of julle kan dit nie kry nie dan kyk maar na die 2de wense.

Ons wil eintlik he dat die eerste geskenk nie meer as R300 is nie want anders word dit “out of control”. Ek wil nou nie vir julle se wat julle moet en nie moet nie doen nie, ons wil net van ons kant af seker maak dat dit regverdig is vir elke kind.

Asb vra maar oor enige iets as jy nie seker is nie. Ek sal baie graag help waar ek kan. Baie dankie vir al jou moeite! Ons waardeer dit baie.

Kind regards,








No comments:

Post a Comment